KAKTUS OP DIE VLAKTES: OESJAAR 2002
22 JAAR VAN AFRIKAANSE ROCK.
VERVAARDIG DEUR: DIRK UYS PRODUKSIES EN BOEREPLAAS PLATE
Vanjaar 22 jaar gelede het die eerste Afrikaanse rockliedjie, Blommetjie gedenk aan My, helder en duidelik oor die SA radiosenders weerklink. Na ‘n stadige en klein begin, het Afrikaanse Rock voortgesleep tot in 1986 toe die legendariese album Wie is Bermoldus Niemand? vrygestel is. Hierdie album het verskeie jong Afrikaanse kunstenaars geinspireer om Rock liedjies in Afrikaans te skryf. In 1987 het die ontmoeting tussen Kombuis, Uys, Kerkorrel en Niemand die geboorte van die Voëlvry beweging ingelui ..
Die radikale verandering van SA se politieke, kulturele en sosiale landskap na die dramatiese gebeure in 1990, het ‘n vakuum geskep wat vereis het dat alle kunstenaars hulle moes herposisioneer binne die nuwe Suid Afrika. Binne hierdie vakuum was die enigste manier om regtig by Afrikaanse jongmense uit te kom deur middel van nasionale toere. Tussen 1990 en 1997 het Kombuis, Uys, Valiant Swart en die Stellenbosch rockers Akkedis Suid Afrika en Namibie deurkruis om die Rock ‘n Roll Gospel na die volk te neem.
Die laaste 5 jaar het daar ‘n uitstekende oes van veelsydige jong Afrikaanse Rockers op die toneel verskyn. Kaktus 2002 vier vanjaar die lewenskragtigheid van Afrikaanse Rock deur veral die jong bands in die kollig te plaas.
Die kunstenaars wat vanjaar die vlagskip stuur is Karen Zoid en Beeskraal. Zoid het meteoriese opgang gemaak sedert sy haar eerste deurbraak by die Tassenberg Stalteater 2001 gemaak het. Haar liedjies soos Afrikaners is Plesierig en Dit maak nie regtig saak nie gaan beslis die Kaktus skare op hulle voete hou. Hulle het reeds gemaklik op die volksmond gaan lê en is altyd groot gunstelinge by die gehoor.
Beeskraal is besig om die hele land om te keer met hul unieke Boere-Rock klank. Die Beeste se optredes is altyd hoogs energieke en plesierige sweetsessies Hul musiek is rasegte Afrikaanse Rock op sy beste.
Om die Rock aanslag aansienlik te versterk is daar die geharde Akkedis uit die Akkerstrate van Stellenbosch. Aangevoer deur die Dennis tweeling, Arthur en Rudi, gaan die reptiele hul familie in die vlaktes laat saam baljaar vanjaar met treffers soos Cybersurferraver, Anderkant die berg, Voortvlugtend, en Akkers in jou Gutters.
Die immergewilde Kaapse Hip Hoppers, Brasse Vannie Kaap staan vanjaar weer reg om die feesgangers behoorlik te laat dans en bokspring. Vergestalt in die formidabele Mr. Fat en aangevuur deur die warm draaitafels van Ready D, is BVK altyd een van die hoogtepunte. Hulle kleurvolle, energieke briekdansers sal verseker dat die feesgangers die graspolle sal laat waai.
Spinnekop se dodelike oorspronklike Afrikaanse Rock het al landwyd gehore vergiftig. Liedjies soos Binneland In en Tiger & Louise word altyd luiddrugtig saamgesing by hul optredes. Gian Groen, hoof rockspider, beloof om die Kaktuskoppe behoorlik te beswymel met ou gunstelinge sowel as nuwe komposisies.
Kaktus is die ideale platvorm on nuwe Afrkaanse Rockers blootstelling te gee. Vanjaar is dit die beurt van Diff-olie en die Brixton Moord en Roof Orkes. Warm garage rock, vars van die werkswinkel se vloer, word met maksimum stemkrag gelewer deur Wolmer se eie Frikkie Diff-olie. Brixton Moord en Roof Orkes se musiek handel oor alledaagse dinge soos oorlog, drank, drugs en road rage. Hulle het ook ‘n liefdesliedjie, Wit Wolke, wat Roof Bezuidenhout met fyn Gautengse sinisme aan die feesgangers sal opdra.
Kaktus streef ook daarna om groepe in die breër SA Pop toneel blootstelling te gee, en daarom is die briljante Kaapse groep, Sons of Trout, ook hierdie jaar deel van die spyskaart. Hulle kombineer uiteenopende musiekstyle soos pop, rap, folk en rock om ‘n smaaklike musiekallegaartjie op te dis. Die viskoppe is ook veral bekend vir hul suiwer harmonieë. Vioolspeler Mike Rennie staan die plek van ‘n elektriese kitaarspeler vol.
Hardekool Metal-rappers, Not My Dog, is terug om ‘n totale aanslag op die sintuie te loods.
Die sypaadjies van Oudtshoorn sal nooit weer dieselfde wees as die Honde uit Wolmer hul ding gedoen het nie. NMD word vandag gereken as SA se kragtigste metal groep en hul vertoning sal menige headbanger se nek beseer.
Scicoustic sorg vir slim lirieke vergesel deur seepgladde sinkopatiese rock. Die veelsydige groep uit Pretoria word aangevoer deur liriekskrywer, hoofsanger en kitaarspeler, Albert Meintjes. Scicoustic het gehore en kritici ewe opgewonde en sal die geleentheid benut om hul musiek aan ‘n groter gehoor bekend te stel. Hulle word vergesel deur Anika, folksangeres, wat ook die akoestiese kitaar speel en haar eie komposisies sing.
Vanjaar is die vierde agtereenvolgende Kaktus op die Vlaktes wat deur Dirk Uys Produksies vir die KKNK vervaardig word. Soos in die verlede sal Uys ook sy eie verhoogbestuur en tegniese versorging behartig. Daar sal ook ‘n CD stalletjies wees wat die kunstenaars wat by Kaktus en by die Tassenberg Stalteater optree, se produkte sal verkoop.
Die nuwe Afrikaanse Rock album, Vloek van die Kitaar, wat 22 jaar van Afrikaanse Rock gedenk, sal ook by Kaktus beskikbaar wees.
Kaktus skop af om 16h00 op 6 April 2002. Kaartjies is vooraf beskikbaar by Computicket R50 vir studente en skoliere en R70 vir andere.
Tassenberg Stalteater Program Schedule
Viva Afrikaanse Rock!
Sien julle daar!
Indien u meer inligting verlang, kontak vir Annene of Dirk Uys by 0823794447 of
annene@xsinet.co.za